18/09/2020
Ek deel graag my storie as bewys dat dit nooit te laat is om 'n nuwe droom te droom nie, dat alles moontlik is met genoegsame hoeveelheid passie en die bereidwilligheid om hard te werk.
Ek, Elzadia Aspeling, matrikuleer die jaar 2000 aan Hoërskool Hantam. 2001 meld ek aan my Peninsula Technikon om Information Technology te studeer. Dit was nie baie lank voordat ek besef het dat dit nie is wat ek vir 'n lewe wil doen en ek skop nog dieselfde jaar op, om die rede sowel as ander uitdagings wat my studies bemoeilik het.
Die daaropvolgende jare beklee ek verskillende posisies wat insluit deeltydse admin klerk in Johannesburg, admin klerk in Calvinia. Op 'n stadium is ek werkloos en vind ek 'n betrekking in Kimberley, waarna ek vir dieselfde organisasie in Springbok gaan werk. Die organisasie het sy deure in Springbok gesluit en keer ek terug na Calvinia, weereens sonder werk. Terwyl ek opsoek is na werk, raak ek betrokke by 'n plaaslike ECD sentrum waar ek vrywillige diens lewer. Daarna word ek 'n VCT counselor by Calvinia Kliniek, waarna ek by Departement Maatskaplike Ontwikkeling as Senior Admin Klerk begin werk in 2009.
Deur die loop van die jare het ek verskeie kort kursusse gedoen wat administrasie, projekbestuur en rekenaaropleiding ingesluit het maar ek het ALTYD nog die brandende begeerte gehad om 'n graad te verwerf. Terwyl ek in diens van Departement Maatskaplike Ontwikkeling staan, kom ek tot die ontdekking dat ek 'n Maatskaplike Werker wil wees. Ek was altyd baie passievol oor gemeenskapsbetrokkenheid en opheffingswerk.
Ek registreer 2015 my eerste 8 modules (van die 40 modules wat vereis word om die Maatskaplike Werk graad te behaal) aan die Universiteit van Suid Afrika (UNISA). Ek is op hierdie stadium 'n moeder van 2, getroud, staan in 'n voltydse werk en baie aktief betrokke binne verskeie strukture binne die werksplek en die gemeenskap. In 2016 voltooi ek 12 modules en aan die einde van 2016 is ek halfpad om my doelwit te bereik. UNISA het op daardie stadium toegelaat dat 'n 4 jaar kwalifikasie binne 'n maksimum tydperk van 10 jaar voltooi word maar my doelwit was om binne 4 jaar klaar te studeer. In 2017 registreer ek die 10 modules van my 3de jaar en dit is ook toe die studies baie veeleisend begin raak. Nagte moes ek opsit, naweke agter die boeke deurbring, selfs baie male uitgemis op familiegeleenthede en ek moes my ook losmaak van die strukture waarby ek betrokke was. Duisende kilometers moes afgelê word tussen Calvinia en Kimberley. Dit was fisies en emosioneel uitmergelend en was ek konstant moeg. Ek onthou ek wou op 'n stadium van my modules kanselleer, sodat die druk net minder kon word. Ek voltooi egter die 10 modules suksesvol aan die einde van die jaar.
2018, my finale studiejaar, sterf my moeder gedurende die maand van Januarie. Sy was 'n rots gedurende die journey♥️. Ek moes die besluit neem of ek al 10 my finale modules gaan registreer en ek sê vir myself "Elzadia, jou Mammie sou wou hê jy moes klaar studeer" want sy het voortdurend gesê hoe trots sy op my is. Ek registreer toe my 10 modules maar net later die jaar tref siekte ons woning en dit raak al moeiliker om die pas vol te hou. Ek voltooi 9 van my 10 modules die jaar en besluit 1 van die veeleisendste modules moet oorstaan tot 2019.
Einde 2019 voltooi ek die betrokke module en ek verwerf my Bachelor of Social Work Degree Cum Laude. Die trane het gevloei en ek sou wat wou gee dat my Mammie hier moes wees om in my vreugde te deel.
Sonder die ondersteuning van familie en vriende sou ek dit nooit maak nie🌹
My boodskap aan ons jeug en diegene wat nie meer so jeugdig is maar steeds droom..
Dit is nooit te laat nie. Dissipline, harde werk, toewyding em die bereidwilligheid om opofferings te maak sal tot sukses lei! Geleenthede is oop, studiebeurse is oraloor beskikbaar maar dit hang uiteindelik van onsself af om die keuse te maak en dit deur te voer, al kom wat op ons pad. Dit wat die moeite werd is om te hê, sal nooit maklik kom nie en 'n kwalifikasie is die 1 ding wat niemand kan wegneem. Droom groot en wees bereid om harde bene te kou vir die verwesenliking van daardie droom.
Ek het altyd vir myself gesê, "Die Here is nie onregverdig nie, as ek my beste doen..sal Hy die res doen"🙏🏻