26/06/2026
Die Aristea gestrand in Hondeklipbaai 4 Julie 1945
Gedurende 1934 en 1935 neem Irvin en Johnson eienaarskap van die stoom-aangedrewe vistreilers Aristea, Crassula, Babania en Bluff, gebou in Aberdeen Skotland. Dit was vaartbelynde en moderne vistreilers vir daardie era.
Nege dae nadat Suid Afika oorlog verklaar het teen Duitsland word die vier identiese vistreilers oor ‘n tydperk gekommandeer om as mynveërs oorlogsdiens te doen.
Na afloop van die oorlog en terug in diens by I&J word die Aristea weereens toegerus as ‘n vistreiler.
Op die nag van 4 Julie 1945, wyl onderweg na Port Nolloth met 23 bemanning en die (besope) kaptein aan boord, loop die Aristea op die rotse; ongeveer 4 kilometer suid van Hondeklipbaai.
Dit was nie ‘n besonder stormagtige see nie maar wel ‘n donker, mistige nag. Die jong en onervare stuurman het waarskynlik te na aan die land gevaar en omdat daar ‘n sterk landwaartse stroom was, op die rotse beland ongeveer 50 meter die see in. Toe die treiler vinnig water begin inneem en tekens toon dat sy gaan opbreek, besluit die kaptein en die bemanning om die boot te verlaat. Eers probeer hulle ‘n reddingsboot te water laat maar diè word sommer dadelik deur die branders en die rotse stukkend geslaan. Twee bemanninslede, Louis Jacoby en Frank September bied vrywillig aan om met ‘n tou land toe te swem. Jacoby, wat ‘n sterk swemmer was, en September duik van die dek af en verdwyn dadelik die stikdonker nag in. Na vier ure slaag Jacoby daarin om die land te bereik maar September se reddingbaadjie word op die rotse stukkend geslaan en hy dryf hulpeloos die diepsee in. Sy lyk is nooit gekry nie. Terwyl Jacoby die tou met sy voet vastrap slaag die res van die bemanning daarin om die land veilig te bereik. Teen die tyd dat die laaste man op die wal is lê die Aristea slegs 20 meter van die strand af. Deur die donker nag strompel hulle koud en nat na die Hondeklipbaai polisiestasie toe.
Die kaptein, Ernst de la Chaumette, word op 8 Desember 1945 deur ‘n komissie van ondersoek vir 9 maande lank van sy skeepsvaart sertifikaat ontneem omdat daar getuienis gelewer was dat hy in Kaapstad onder die invloed van drank aan boord gegaan het. Slegs een bemanningslid was bereid om teen hom te getuig. Jacoby het eers op sy sterfbed aan sy kleinkinders erken dat die kaptein wel onder die invloed was.
Hoewel erg verweer, lê gedeeltes van die wrak steeds daar, suid van Hondeklipbaai op die rotse - nog ’n toonbeeld van die wispelteurige buie van die stormagtige Atlantiese oseaan.
Elize Kruger