30/07/2024
𝗩𝗹𝗲𝗶𝘀𝘂𝗶𝘁𝘃𝗼𝗲𝗿 – 𝗺𝗲𝘁 𝗼𝗳 𝘀𝗼𝗻𝗱𝗲𝗿 '𝗻 𝗽𝗲𝗿𝗺𝗶𝘁?
Reisigers kan ‘n maksimum van 25 kg rou vleis of 10 kg biltong vir eie gebruik uit Namibië na Suid-Afrika of Botswana vervoer sonder ‘n veeartseny-invoerpermit van Suid-Afrika en ‘n Namibiese gesondheidsertifikaat.
‘n Kennisgewing is onlangs opnuut deur Namibië se direktoraat van veeartsenydienste uitgereik oor vereistes vir die algemene publiek, boere, jagters en uitvoerders wat vleis uit Namibië na die buurlande wil neem.
Die sertifisering van alle vleis word deur ‘n streek se staatsveearts gedoen en nie deur grensbeamptes nie, volgens die kennisgewing deur die waarnemende hoofveeartsenybeampte, dr Johannes Shoopala.
‘n Belangrike vereiste is dat vleis wat uitgevoer word uit die bek-en-klou-seersiektevrye sone van Namibië moet kom. Varkvleis, die vleis van wilde varke en perde mag nie vir eie gebruik uitgevoer word nie – slegs vleis van beeste, wild, skape, bokke en pluimvee.
Sodra 25 kg tot 250 kg rou vleis uitgevoer word, word beide ‘n Suid-Afrikaanse veeartsenypermit en ‘n gesondheidsertifikaat van die Namibiese veeartseny-direktoraat benodig. In die geval van biltong sal die dokumente vereis word vir pakkies wat tussen 10 kg en 100 kg weeg. Groter besendings as hierdie word nie vir eie gebruik geag nie en die uitvoerder sal vir ‘n kommersiële veeartsenypermit aansoek moet doen, lui die kennisgewing.
As dit by polonie, gekookte of geblikte vleis kom kan tot 25 kg daarvan uitgevoer word sonder dat enige permitte nodig is.
Vir meer inligting kan die publiek die ministerie van landbou, water en grondhervorming se in- en uitvoerkantoor by 061 208 7892 skakel.