10/12/2024
Die Korrekte Banddruk - Johan Badenhorst (Voetspore)
Dit is interessant dat meeste gesprekke oor 4x4’s handel oor die fabrikaat, petrol of diesel, wringkrag van die enjin, moet ek my voertuig laat “chip” of “map”… maar al hierdie argumente is waardeloos as mens nie by die begin begin nie. Belangrikste van enige 4x4-rit is die 4 stukkies rubber, elkeen net bietjie groter as die palm van jou hand, wat aan die padoppervlakte raak.
Banddruk is die essensie hoe veilig, gemaklik en suksesvol jou rit is. Dit voel baie keer soos ‘n beslommernis om die banddruk aan te pas vir verskillende padtoestande, maar daardie 5 min wat jy gebruik om die banddruk te lig of te laat sak, kan nie net jou rit soveel meer vergemaklik nie, dit kan ook die verskil beteken tussen lewe en dood.
Elke voertuig het ‘n aanbevole banddruk. Dit staan gewoonlik geskryf op die binnekant van die flap waar die brandstof ingegooi word. Selfs daar word verskillende banddruk aanbeveel, afhangende van die spoed en vrag wat die voertuig dra. Wat daar nie staan nie, is wat die banddruk moet wees op ‘n grondpad, sandpad of klipperige pad.
In die mees ekstreme gevalle kan mens die banddruk laat sak tot onder 1 bar. Dis gewoonlik vir duine ry. Die oppervlakte word minimaal breër gemaak as die banddruk sak, maar veral langer gemaak. Dit gee aan jou ‘n veel groter voetspoor – die een hand word nou sommer baie hande, wat aan die oppervlakte raak. Daarom het jy soveel meer van ‘n greep op die oppervlakte. Maar hierdie is in spesialis gebiede, gewoonlik tydens begeleide toere. Die gevaar is altyd dat die band van die velling kan afspring as mens te vinnig om die draai gaan.
In gevalle waar klipperige terrein aangepak word is daar twee leerskole – die een sê sag, die ander een sê hard. As jou bande sag gery word, is daar die gevaar dat ‘n skerp voorwerp die sywand kan penetreer. As jou bande hard gery word, is dit veel meer ongerieflik, en die hoeveelheid rubber op die padoppervlakte word beperk, wat minder vasbyt aan die oppervlakte gee. My advies – laat sak die banddruk, maar pasop vir spoed. Sagte bande en spoed is nie maats nie.
Die kwessie van banddruk wat die meeste mense raak is die gewone grondpad, veral ‘n slegte pad soos die een tussen Van Zylsrus en Askham. Die pad het slegte gruis, sinkplaat en ook soms poele sand. Dis ‘n kombinasie van amper alle ander grondpaaie wat mens dwars oor die land kry. Daar is ‘n voorvereiste om die rit so gerieflik en veilig moontlik te maak, en dit is die korrekte banddruk.
In die eerste plek – verlaag jou banddruk. As jy swaar vrag dra soos met ‘n Cruiser op safari, so in die omgewing van 2 bar. Ander voertuie, af na 1.5 bar agter, en 1.2 bar voor. En alhoewel ek vroeër gesê het spoed en sagte bande is nie maats nie, is die geheim hier om ook nie te stadig te ry nie. Dis veral die geval op ‘n sinkplaatpad.
Toets die spoed oor waar dit gemaklik is. Die voertuig moet oor die sinkplaat ry, en nie deur hom nie. Dis gewoonlik hier iewers tussen 60 en 70 km/h. Te stadig en dit sal voel of jy die emalje van jou tande gaan af-chip! Te vinnig en dit raak gevaarlik, want jy kan dit om ‘n draai verloor.
Met die regte banddruk kan selfs die R31 tussen van Zylsrus en Askham soos ‘n teerpad voel. Baie belangrik net om, aan die einde van die roete, die banddruk weer te lig na die teerpad druk. Niks laat ‘n band vinniger bars teen hoë spoed op ‘n teerpad, as sagte banddruk nie. Dis wanneer die band baie warm word en kan lewensgevaarlik wees.
Die korrekte banddruk is die essensie van ‘n gerieflike en veilige rit, op teer of op grond, op die N1 of op ‘n tweespoor, selfs in die duine of tussen die klippe,
Johan Badenhorst
Desember 2024
Voetspore