04/04/2025
BALKIE-BEHEP – RAAK DIT JOU IDENTITEIT?
– Rubriek deur Daniëlle Herbst (Vooruit-redaksie)
As daar iets is wat ‘n Oranje-meisie se hart vinniger laat klop as ‘n Grey-seun, is dit daardie begeerlike balkie aan jou skoolbaadjie.
Hierdie klein stukkie materiaal is nie net ‘n versiering nie, maar ‘n simbool van ure se harde werk, toewyding en jou plek in die hiërargie van akademie, kultuur, sport en leierskap. Amper soos ‘n militêre medalje.
Tog lê daar ‘n subtiele gevaar: ‘n Kultuur waarin jou waarde gemeet word aan die aantal balkies wat jy dra.
Oranje-meisies het die vermoë om met ‘n enkele blik jou balkies te interpreteer en daardeur jou hele skoolloopbaan te ontleed. Elke nuwe balkie is ‘n erkenning van sukses en hoër status, ‘n deel van die speletjie van vergelyking – wie het die meeste en wie die minste?
Wat onskuldig begin, raak gou jou identiteit, verweef met hierdie stukkie materiaal. Die druk om te presteer is intens, daar’s altyd ‘n volgende doelwit – nóg ‘n balkie om in die sak te steek. Maar wanneer is dit genoeg?
Die gevaar lê juis hierin wanneer jou selfwaarde bepaal word deur eksterne erkenning eerder as jou eie inherente waarde.
Jy is nie jou balkies nie. Jou karakter, jou vriendskappe, jou deernis en jou unieke uitkyk op die lewe is onmeetbaar. Die meisie met tien balkies is nie meer werd as dié met een of geen nie.
Waarvoor sal jy onthou word? Vir jou optrede teenoor ander en die verskil wat jy gemaak het, of vir jou versameling balkies?
Dra jou balkies met trots, maar moenie perspektief verloor nie. Jou skoolloopbaan gaan nie net oor die aantal balkies wat jy bymekaarmaak nie, maar ook oor die groei en herinneringe wat daarmee gepaardgaan.
Jou waarde lê veel eerder in die persoon wat jy elke dag kies om te wees – met of sonder ‘n balkie aan jou baadjie.