22/12/2023
Boodskap van Flip Lochner, voorsitter van Clanwilliam Toerismevereniging:
Aan die nuwe bestuur van Clanwilliam Toerismevereniging: baie dankie dat julle bereid is om van julle tyd aan Clanwilliam af te staan. Ek is seker die jongmense se nuwe idees en die ouer garde se ondervinding sal bydra tot ons mikpunt om Clanwilliam en die Cederberg-omgewing 'n topbestemming vir toeriste te maak.
Die toerismebeampte van die afgelope twee jaar, Gerald Zimri, verlaat die kantoor aan die einde van Desember om sy loopbaan in toerisme verder voort te sit. Ons wens Gerald alles van die beste vir die toekoms.
Alhoewel daar nog nie 'n aanstelling in sy plek gemaak is nie, sal die inligtingsdiens aan toeriste voortgesit word totdat 'n nuwe aanstelling gemaak is. Ons vra dat ons lede toeriste vanaf 23 Desember tot 2 Januarie na die Ou Tronk Museum sal verwys vir inligting oor die dorp en omgewing, want tussen daardie datums sal die toerismekantoor toe wees.
Ons wens al ons lede, die amptenare, boere en besigheidslui van die dorp en streek, asook toeriste 'n geseënde Kersfees en ons glo 2024 sal voorspoedig wees.