14/05/2026
Ag jaar gelede het "die pad" jou na my toe gebring...
Jy was ’n skaaphond sonder ’n naam, sonder ’n bekende ouderdom, en sonder ’n heenkome.
Ek het niks van jou verlede geweet nie, maar toe ek jou optel, het ek geweet jou toekoms is by my...
Vandag is jy presies ag jaar lank deel van my lewe en daarom vier ons sommer jou verjaarsdag!
Dit was immers die dag toe jou lewe van voor af begin het...
Gannabos is jou paradys, jy behoort aan hierdie grond!
Jy ken die ritme van die wind en die taal van die skape, maar jou gunsteling plek is altyd daar waar jou mense is!
Met 'n nat neus teen 'n hand of 'n saggies waai van jou stert, kleur jy die grys dae in met skakerings van onvoorwaardelike liefde...
Jy vra niks, maar gee alles!
Wanneer ons nie stap nie, ry ons...
Almal op die plaas weet: die voorste sitplek van die bakkie behoort aan jou.
Dit is jou eksklusiewe troon!
Die jare begin nou duidelik wys in die sagtheid van jou gesig.
Daar is ’n rustigheid in jou kyk, gevorm deur die stilte van die Hantam en die wydheid van die kokerboomwoud.
Al raak jou stappe stadiger op die paaie van Gannabos, bly een ding heeltemal onveranderd, jou reaksie wanneer jy 'n muis gewaar!
Jy word dalk ouer, Leah, maar jou siel bly vir altyd die einste liefde wat my ag jaar gelede gevind het...
My wens is dat jy vir nog 'n jaar vir ons gespaar mag bly.
Alle dank aan dr. Chris van Dijk en dr. Gary Bogner.
JY MOET LEKKER VERJAAR!