10/09/2026
Smarti.10
Met ons terugkeer van ons naweek weg, het ons bokser Dulux 'n volwasse stinkmuishond in die agterplaas vasgekeer. Dit was groot moerakkas! Daarvandaan was Smarti versigtig vir Dulux se bewegings. Nogtans kan die woord bang nie daaraan gekoppel word nie.
'n Volwasse wyfie in die veld kan weeg 600-800g. Smarti het goeie kos gekry en haar gewig was al amper daar. Dis ook te verstane, want die hele plaas het vir haar krieke in sakke en blikke en emmers aangedra. Haar 1ste kriek het ons bietjie stadiger gemaak met die vlieplak. Sy wou die dis net eet, maar die dis hardloop weg en meteens ontdek sy dat haar voete die vangwerk kan doen. Sy het nie gehou van die bene van die kriek nie. Takealot het die meelwurms afgelewer op die voorstoep. Dit wat ons kon wegsteek, het ons weggesteek. Onse meisiekind moes leer om haar kos te gaan soek.
Wonder wie ken die pedale op die foto? Smarti se gunsteling plek was agter die pedale en as jy haar roep het sy soms sommer daar in die hoekie uitgedop!
Ons het by Menoegaa die Stink muishondjie, klein grys muishondjie en die witkwas muishondjie. Hulle kan 'n gebied vir hul eien van 100ha.