Blixim!Dit@103 Palinggat Oord
Blixim!Dit@103 is 'n gerieflike en netjiese drie slaapkamer, twee badkamer (slegs storte) selfsorghuis in die bekende Palinggat Oord in Stilbaai-Wes wat beheerde toegang in 'n veilige omgewing bied sodat daai nefie of niggie van 'n ander dorp nie sommer kan stop en afpak sonder om jou te waarsku nie. Gelukkig en ongelukkig is daar vir hierdie gerief sekere gedragsre
ëls wat deur die oord opgestel word om te gehoorsaam, let asb daarop. Die gedragskode sal tydens bespreking en bevestiging gestuur word. Al drie die slaapkamers het koninggrootte beddens met linne. Daar is 'n ruim leefarea met 'n TV en Internet koppeling via WiFi, kombuis en 'n lekker stoep met 'n ingeboude braai en yskas om te ontspan en te doen presies wat die naam sê…
Die kombuis het al die nodige goetertjies om jou verblyf gemaklik te maak, en as daar iets kort laat ons weet en ons pas aan om dit verder gemaklik te maak vir die volgende besoek. Palinggat Oord het die volgende geriewe wat jy binne die reëls, wat vir almal bestaan, kan gebruik en al hierdie is net om die draai van waar die huis geleë is, ongeveer drie minute se stap.
• Gemeenskapsaal
• Swembad vir ouermense
• Swembad vir die jongspan
• Klouterrame
• Muurbalbaan
• Wassery
• Snoepie (sekere tye)
Die rivier se "strand" aan weste kant, asook die Stilbaai-Wes strand, langs die hawe, is naby geleë en jy kan maklik en vinnig daar uitkom sonder om jou kar gereeld vol te maak. Daar is 'n maklike toegangsroete om vinnig langs die rivier te kom en dan 'n gesonde stap in te kry, noord na die brug se kant, of suid na die hawe se kant. As jy diepsee wil gaan swem aan die Stilbaai-Oos kant, by Lappiesbaai, sal jy jou kar se neus hoofpad toe moet draai en oor die brug ry om vinnig daar uit te kom want 'n toonrol gaan langer neem. Indien jy vinnige aankope moet gaan doen te voet, by een van die twee kettingwinkels op die dorp, of as jy gou moet gaan lafenisroom kry by die apteek na 'n lang dag in die son, is dit stapafstand van die oord se hoofhek af. As jy opsoek is na 'n ontspanne wegbreek vir 'n paar dae, kom na Blixim!Dit@103! Los dan sommer al die moelikheid langs die bekende skuitjie, daar by die afdraai van die N2 oppad na Stilbaai! So, kom Blixim!Dit by nommer 103!