10/06/2026
https://www.facebook.com/share/196q1M4JKd/
PIETER PIETERSE:
Nomadiese legende
(9/06/1936 - 17/03/2002). Leana Lategan vertel...
Toe die allertreurige nuus van die skokkende en gewelddadige moord op die skrywer Pieter Pieterse in 2002 bekendgemaak is, was die reaksie van sy geesdriftige lesers, vriende en kennisse een van verslaenheid. Hy was iemand wat so 'n eiesoortige en unieke lewe gelei het, en soveel vir Afrikaans beteken het, dat hy reeds van vroeg af mense se belangstelling gewek het.
Hy is in 1936 in Pietersburg gebore en was die oudste van vier kinders. Pa Ferdinand was 'n boer en Ma Emily 'n bekende skrywer van liefdesverhale. Een van sy twee susters is die bekende uitgewer Marietjie Coetzee.
Hy woon laerskole op Soekmekaar en Dealesville by. Die gesin verhuis agtereenvolgens na 'n plaas naby Messina, en later Oporto. Pieter matrikuleer aan die Hoërskool Pietersburg.
Ná matriek kies hy alreeds 'n lewe in die bosryke natuur, en vir vier jaar lank leef hy van die veld, en begin ook skryf. 'n Eerste kortverhaal word in 1956 gepubliseer.
Sy soeke na vastigheid lei deur verskillende werksituasies: dié van winkelassistent, poskantoorklerk, werk by die spoorweë en 'n vierjarige opleiding as polisieman. Toe hy ná vier jaar sersant word, verander hy nogeens van koers, en begin as versekeringsagent by SANLAM werk. In hierdie tyd verskyn sy eerste boek, "Smokkelaar in die nag", waarop 'n verdere sewe romans volg. Hy is ook reeds bevorder tot bemarkingsbestuurder by SANLAM.
Sy begeerte na vryheid en avontuur laat hom egter 'n plasie koop, wat hy "Kom tot rus" doop. En dít is dan waar die eintlike reis van ons skrywer begin. Oor die komende jare sou hy sy "kêrewêntjie", "Die Spookhuis", op veel meer as een stuk mooi aarde staanmaak.
Volgens hom het 'n mens nie regtig gelééf as jy nie die son op verskeie plekke sien opkom het nie... Pieterse het sy wêreld verken van die Laeveld, Dasseneiland en Mosambiek, deur die Kavango, die Skedelkus, die Weskus, tot in die Caprivi. Die karavaan was sy woon-en werkplek, en sy veilige tuidkoms na rus wanneer hy vir werk stad toe moes gaan. Hy het vinnig volksbesit geword, sodat besoekers en aanhangers dikwels sommer by 'n toeganklike staning sou kom dagsê, en bedel vir 'n foto.
Pieter het uit 'n jeugverhouding 'n dogter gehad, en uit 'n eerste huwelik vyf kinders. Sy onkonvensionele huwelik met Jenny Winter (wat hy "Die Ingelsman" genoem het) was 'n gelukkige en ondersteunende verbintenis.
Pieter het, afgesien van sy omvangryke en bekroonde oeuvre, ook aan talle ander woord-en beeldproduksies gewerk: kos- en reisboeke soos byvoorbeeld "Skedelkuskos", "Boskos: Boude en blaaie" en "Baai baai Tietiesbaai" en ook televisiereekse, en deelname aan geselsprogramme soos "Maak 'n las". In hierdie werk benut hy al sy ervarings van die lewe in 'n ongerepte omgewing, en skryf hy veral ook oor die mens se plek in en verantwoordelikheid teenoor die wêreld om hom. Sy eiesoortige tipe humor is steeds legendaries en sy verhale en vertellings blý relevant.
Pieterse het veral vir die jeug geskryf (en is ook herhaaldelik bekroon met pryse en toekennings ).
Een van sy romans vir volwassenes moet ons egter uitsonder: "Manaka, Plek van die horings". Dit word steeds beskou as sy beste werk vir volwasse lesers. Die inherente aard van die vasteland van Afrika word verken, terwyl die kompleksiteit van interkulturele verhoudings ook ter sprake kom.
Boeke wat 'n mens dalk weer moet lees, sluit in
"Geheim van die reënwoud", "Die pad na die see", "Silwer, jakkals van die Namib", "Nag van die tarentale", en "Anderkant die groot rivier". Laasgenoemde verhaal is gebaseer op die skrywer se herinneringe aan jagtogte (as kind) saam met sy pa.
Sowat elf van Pieterse se jeugverhale is in Engels vertaal (sommige deur Jenny), terwyl daar ook 'n vertaling in Frans bestaan van "Dag van die reuse".
Sonder Pieter Pieterse sou Afrikaanse lesers se leef-en ervaringswêreld soveel armer gewees het. Dit voel byna asof woorde ontoereikend is om sy unieke plek in ons herinnering en boekeskat na behore te waardeer...
Grafika: My City Bloemfontein
Kontak die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum: [email protected]