19/01/2022
UIT DIE TYDSKRIF: In ‘n tyd waarin Suid-Afrikaners (met goeie rede) weeklaag oor die verval op die platteland, bly aan die voetheuwels van die Langeberg steeds ‘n beeldskone skoon plek. Byna weekliks verloor nuwe intrekkers hulle hart op die Overbergse natuurskoon, die dorp se lieflike historiese geboue, die buitengewone aantal restaurante en die reënryke mikroklimaat.
So gesels die inwoners van Swellendam oor hulle woonplek:
“Ons ou dorpie raak nou waaragtig ‘n baie lekker plek met ‘n wonderlike kreatiewe energie,” sê Eduan Swanepoel, die eienaar van Bokmakiri, die dorp se enigste boekwinkel. Dié boekwinkel is ‘n soort kulturele spilpunt met boekebekendstellings, kunstentoonstellings, praatjies en selfs vergaderings van die nuutgestigte Musiekvereniging wat gereeld hier gehou word. “Vir my is dit ‘n riem onder die hart dat die winkel ‘n stem en ruimte kan bied aan kreatiewe mense,” sê hy.
Jean Mintoor, ‘n skoonmaker by Swellendam Selfcatering, is op Swellendam gebore en 48 jaar later is sy en haar drie seuns steeds hier - “want my mense is almal hier en ek d**k nie daar is ‘n beter, veiliger plek as Swellendam nie”. Sy vertel dis ‘n mooi plek, maar sy verkies hom in die winter, “Want hier van Desember tot einde Februrarie brand hy.” In Railton waar sy woon “heers daar nog ‘n community-gevoel,” sê sy. “Ek het vanoggend gou wasgoed opgehang voor ek werk toe gekom het, en al het dit intussen gereën, kan ek jou sê daai buurantie van my sal nié daai wasgoed laat natreën nie. In Railton kyk ons nog na mekaar se goed en kinders, en as die nood hoog is, gee ons vir mekaar, soos as iemand darem ‘n potjie rys vir die aand wil opsit.”
“Ons het altyd Desembervakansies by my oupa-hulle in Welgemoed kom kuier - in my kop was die Kaap dus altyd hierdie wonderlike, beeldskone plek waar almal altyd met vakansie is. Ek het altyd gewonder hoekom mag ander mense hier woon en ek nie,” lag Saskia van Leeuwen. Sy en haar broer, Richard, het in 2007 uit Brooklyn, Pretoria, op Swellendam aangekom. Toe was daar weinig jong mense op die dorp. “Ek het gou geleer op die platteland moet jy uitgaan om mense te ontmoet,” sê sy, “en die bevryding was regtig wonderlik, want in Pretoria was ons ingehok in die erf en kon nie sonder toesig strate toe gaan nie.” Dié twee is befaamd vir die eg Hollandse bitterballen wat hulle Saterdae verkoop.
Dala Watts is ‘n jare lange kollega van Platteland. Sy en haar man, Gary, het onlangs na Swellendam verhuis. “Ons was nog altyd mal oor hierdie mooi omgewing en het ‘n hele paar jaar elke Desembervakansie twee lieflike ou houthuise op die plaas Fazenda gehuur - ons kinders was en is steeds mal daaroor om hier bo in die berg en die damme en poele te speel,” vertel hulle. Gelukkig het Victor (hulle seun) pas matriek geskryf, Tara (hulle dogter) werk as onderwyser in die Kaap, en Swellendam het supervinnige vesel-internet gekry, iets wat noodsaaklik is vir Dala wat die tydskrifte Idees en Joernaal by die huis ontwerp. Op 25 Junie 2021 het hulle na ‘n huis kom kyk en dieselfde dag nog die koopaanbod geteken.
Bev Missing is natuurlik alombekend as die destydse eienaar van die handelsmerk Rain. Vandag besit sy Grace + Merci, ‘n restaurant en deli-en-geskenkwinkel in Voortrekstraat. In 2004 het sy in die paradyslike Hermitage-valley by Swellendam aangekom, juis omdat hulle nie enigiets bekostigbaars op Franschhoek of Hermanus kon opspoor nie. “Die dorp was totaal en al Afrikaans met hope afgetrede mense toe ons hier aangekom het,” vertel sy, “maar by die meet & greets wat die nuwe besigheid forum deesdae reël, is daar elke keer nuwe jong gesinne en professionele mense wat van die huis af werk en sê hulle kan eenvoudig nie meer die huise of die skole in die Kaap bekostig nie. Hier is ‘n nuwe energie op die dorp, en dis tasbaar.”
Lees in ons Someruitgawe meer oor dié dinge wat hierdie kleindorp so besonders maak en wat jy moet weet as jy daaraan d**k om hierheen te trek!